Tietel 9

Jy is nie ’n sondaar omdat jy sonde doen nie, jy is ’n sondaar omdat jy in Adam is. Jy is nie regverdig omdat jy regverdige dinge doen en dit verdien nie, jy is regverdig omdat jy in Christus is.

Romeine 8:2

Want die wet van die Gees van die lewe in Jesus Christus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.

Romeine 12:2

… maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. 

 

Die Evangelie het slegs ’n impak op jou lewe wanneer dit jou Evangelie word! Jy moet jouself in die goeie nuus ontdek.

Een van die belangrikste konsepte wat ons in die Nuwe Testament aantref, is die in Christus-konsep. Jy moet ontdek dat dit wat Jesus gedoen het, op jou lewe van toepassing is.

 

Die IN CHRISTUS konsep het drie sleutelkomponente wat jy moet ontdek:

 

  1. Jy het saam met Jesus gesterf.

Deur die kruisdood is daar doeltreffend afgereken met die mag en die resultaat van sonde oor jou lewe, naamlik skuld, skaamte en seer. Die mag van sonde is finaal gebreek oor jou lewe – jy hoef nie meer die knie voor versoekings en sonde te buig nie.

 

  1. Jy het saam met Jesus in ’n nuwe oorwinningslewe opgestaan.

Jy het ’n nuwe identiteit gekry. Jy is nie meer die sondaar wat jy was nie, maar is nou ’n deelgenoot van die Goddelike natuur. Jy moet besef dat jy verlos is van ’n mag wat oor jou geheers het. Jy is nie net vergewe nie, maar is in Jesus Christus geherposisioneer.

Alles wat jy doen, word gemotiveer deur hoe jy oor jouself dink. Die oomblik wanneer jy jou identiteit ontdek, verander jou aktiwiteit!

 

  1. Jy triomfeer en sit saam met Jesus in hemelse plekke.

Jou adres het verander – en jou adres bepaal jou posisionering. Hierdie hemelse adres is nie ’n fisiese plek nie, maar eerder jou herposisionering na ’n posisie van gesag in Christus.

Jy het ’n keuse: Of jy kan aan jou identiteit in Adam bly vashou, of jy kan toelaat dat die newels gelig word sodat jy kan ontdek wie jy is in Christus. Deur geloof kan jy dit wat reeds in Christus bevestig is, in besit neem. Die genade van God is vir alle mense bedoel, en deur die geloof kan jy dit deel maak van jou lewe. Die doop is die openbare getuienis dat jy met Christus verenig is.

 

Nou begin jou lewe die bewys word van hierdie heerlike realiteit en word jou gehoorsaamheid wat deur die geloof geaktiveer is, sigbaar. Identiteit lei na intimiteit, en intimiteit lei na ’n lewe van integriteit.