

Jesus Christus kom as die verlosser, as dié Een wat ons kom vrymaak van die juk van sonde waaronder ons was. Wanneer Hy sy lewe neerlê sê Hy: “Dit is volbring!” Met hierdie woorde kondig Hy die triomfoomblik, die grootste oorwinningsoomblik ooit in die geskiedenis van die mens aan.
Jesus se uitspraak: “Dit is volbring!” – in Grieks: tetelestai – hou die volgende implikasie in:
- Jesus het wettiglik afgereken met elke ander uitspraak of konsep wat die mens gebonde kan hou.
- Dit verklaar die Evangelie omdat dit die samevatting van die totale uitspraak van God oor die mens se lewe is.
Die oomblik toe Jesus gesê het: “Dit is volbring!” het Hy ’n oorwinning aangeteken en die vyand se wettige aanspraak op die mens verbreek.
Deur Adam se daad van sonde het die duiwel wettiglik aanspraak gekry op die mens se lewe.
Regdeur die geskiedenis sien ons hoe die mens poog om homself hiervan te bevry.
Die realiteit is dat die mens homself nooit kon vrymaak nie – nie eers met sy beste poging nie. Hy het ’n verlosser nodig!


Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Eén baie tot regverdiges gestel word.
Romeine 5:19
Jesus alleen kwalifiseer om die mens vry te maak omdat Hy uit ’n maagd gebore is en dus nie deur die bloedlyn van Adam verwek
is nie. Jesus is dus nie soos alle ander mense geïnfekteer en geaffekteer deur sonde nie, maar Hy is totaal sondevry.
Jy word gered nie deur jou gehoorsaamheid nie, jy word gered deur sý gehoorsaamheid aan die Vader om sy lewe neer te lê.
Jy moet ontdek dat jy ingesluit is in daardie oomblik van verlossing. Dít is die goeie nuus van die Evangelie!
Geloof is om te identifiseer, te glo en te aanvaar dat dit wat gebeur het betrekking het op jou lewe.
Jy is ingesluit in daardie oomblik – toe Jesus Christus gesterf het, het jy gesterf, toe Hy begrawe is, is jy begrawe en toe Hy opgestaan het, het jy opgestaan in ’n nuwe lewe.


Dit beteken:
- Aan die kruis is daar met jou ou lewe en jou identifisering met Adam afgereken.
- Jy het ’n nuwe identiteit, omdat jy nou identifiseer met
- Jy het deel in sy triomf en jy sit saam met Hom in hemelse plekke.
Onkunde oor die afgehandelde werk veroorsaak dat jou Christelike lewe soos ’n “Slangetjies en Leertjies”-spel word in die hoop dat jy eindelik die “finish”-blokkie sal haal.
Die beloning van Christenskap is nie die hemel nie, maar die herstel van die mens se intieme verhouding met God.
Jou verlossing is ’n afgehandelde realiteit; dit is nie iets wat jy nog moet onderhandel of voor kwalifiseer nie.
As jy nie uit die oortuiging van jou oorwinning leef nie, kan jou lewe deur die volgende gekenmerk word:
- WILSKRAG – ’n Besluit om jou beste te gee en jou kant te bring om sodoende te kwalifiseer vir God se aanvaarding – ’n besluit wat voortdurend misluk.
- WISSELVALLIGHEID –Geestelike ervarings bepaal nou of jy naby of ver van God af voel; dit beïnvloed of jy geestelik sterk of swak voel.
- “WORRY” – Kommer oor of die Here regtig vir jou omgee, en of jy eendag hemel toe sal gaan.
Jy moet ontdek wat dit beteken toe Jesus gesê het: “Dit is volbring!” – dat jy nou kan lewe vanuit ’n vaste oortuiging dat jy verlos is, dat die guns van God op jou lewe gerig is en dat jy nou reeds ononderbroke intimiteit met God kan geniet.
