
Die gevaar om die twee te meng, wil ek graag aan die hand van ’n eenvoudige chemiese eksperiment verduidelik: Bleikmiddel het die vermoë om vlekke uit kledingstukke te verwyder, maar soms gebeur dit dat die vlekke nie verdwyn nie en al wat oorbly, is geel kolle.
Maar daar is ook ’n ander manier om vlekke te verwyder en dit is deur asyn te gebruik. Min mense weet dit en daarom is dit beslis nie die eerste ding waarna ons sal gryp as ons ’n vuil kol gewaar nie. Gestel jy wil asyn probeer, maar jy wil ook darem iets van die “bekende” (die bleikmiddel) daarby voeg net om honderd persent seker te maak dat dit doeltreffend werk.
Die vraag wat dan onwillekeurig ontstaan, is: Kan ek nie maar die twee meng nie? Indien jy hierdie twee middels sou meng, vorm dit ’n giftige gas, naamlik chloriedgas. Dit val die mukusselle in jou oë en neus aan en dit kan dodelik wees.
As jy dus albei skoonmaakmiddels wou kombineer, het jy op die
ou einde ’n produk met geen reinigingsvermoë nie, maar een wat wel hoogs gevaarlik is.
Die wet laat my soms aan ’n bleikmiddel dink. Dit is iets waarmee ons bekend is en wat ons van kleins af geleer is om te onderhou. Ondanks die feit dat ’n mens dit nooit heeltemal sal regkry om dit te onderhou nie, voel jy darem gemaklik daarmee.
Die asyn laat my dink aan die nuwe plan wat God vir ons in werking gestel het. Hierdie plan vereis nie enige goeie werke of stel nie voorwaardes nie en is die beste plan. Tog is dit steeds asof ons nie die volmaaktheid daarvan kan glo nie en neig ons vinnig terug na dit wat vir ons bekend is – ons eie vermoë en poging om God se guns te verkry.
Ons kan nie ons eie poging met die volmaakte werk van Jesus Christus meng nie. Jesus Christus is die enigste maatstaf van God se guns en liefde vir die mens. Jesus Christus is die waarde wat God aan elke mens heg.
Soveel jare lank het ons vir mense probeer vertel dat hulle hulle moet regruk. Dit is so goed as om jouself aan jou eie skoenveters te probeer optel.
Geloof is die vrug van die openbaring van wie Christus is en wat Hy vir jou gedoen het. Wanneer jy die waarde besef wat Hy in jou plaas omdat Christus in jou is, verander dit jou denkpatrone radikaal. Verlossing gebeur alleenlik uit genade sonder dat ons enige bydrae kan lewer. Nie eers geloof is uit onsself nie, maar God stel ons in staat om te glo en dit is sy geskenk aan ons. Sy liefde vir sy Seun is sy liefde vir ons; Hy oorweldig ons met dieselfde guns.
Wanneer jy hierdie waarheid besef en hierdie goeie nuus vastrapplek in jou hart kry, vind geloofsoortuiging spontaan plaas – so ook die begeerte om God te gehoorsaam. Wettiese gehoorsaamheid beperk die mens tot sy eie feilbare pogings en dit bring net frustrasie en veroordeling mee. Geloof is die vaste vertroue in die onfeilbare prestasie van Christus – Hy het namens jou en my presteer. Die feit dat Hy tot die dood gehoorsaam was, het elke mens se verontskuldiging bewerkstellig.
My dade word nou die spontane vrug van my begrip van die Evangelie. Die begrip inspireer die doen.
