

Jy hoef nie verleë te wees oor die feit dat jy waarlik mens is nie. Jesus Christus het jou ontwerp as mens kom bevestig. Hy het kom wys hoe dit is om as mens te leef in ’n fisiese liggaam wat ook die volheid van God in jou lewe kan vier.
In die Ou Testament is die woord wat gebruik word vir “heerlikheid”, die woord kabod wat letterlik gewig beteken, die tasbare teenwoordigheid van God.
Hierdie gewig was deel van die eerste mens, Adam – hy het geheers vanuit hierdie gewig – hierdie tasbare teenwoordigheid van God.
Adam sondig en die mensdom verloor die outoriteit, die gewig, die teenwoordigheid van God en so word heerskappy van die mens ontneem. Die mens leef nou in verwarring, skuld en skaamte. In plaas daarvan om ’n draer van gesag te wees, leef die mens nou as een wat bydra tot skade, tot pyn en tot seer.
Die mens probeer deur al die eeue om homself te verbeter en te red.
In die Ou Testament probeer die mens die wet onderhou omdat hy weet dit is God se raamwerk van orde. Hulle probeer om daarvolgens te leef in ’n poging om hul verlore heerlikheid te herstel.


Daar was gevalle in die Ou Testament waar die mens met God tyd spandeer het en dan hierdie heerlikheid, hierdie gewigsbelewenis, gehad het, maar dit was ’n tydelike belewenis. Moses het sulke belewenisse in die teenwoordigheid van God gehad.
In die Nuwe Testament word die begrip “heerlikheid” ’n verwysing na meer as bloot die teenwoordigheid van God in jou lewe – dit word die opinie van God wat Hy oor jou lewe verklaar.
Terwyl jy “met onbedekte gesig soos in ’n spieël (die) heerlikheid van God aanskou, word (jy) van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid…”
(sien 2 Korinthiërs 3:18)
– jy word wat Hy oor jou lewe spreek!
Die sleutel tot die verstaan van die Nuwe Testament is dat jy sal ontdek wie jy in Christus is. God het ’n uitspraak oor jou lewe kom maak. Jesus Christus is God se uitspraak oor jou lewe – Hy is die finale woord.
God het ’n nuwe gesprek met die mens kom aanknoop en niemand durf daardie gesprek verander nie. Die gesprek is Christus, en Christus gee definisie aan die mens wat jy is. Jy het nodig om te ontdek wat God oor jou kom sê het in Christus – en op grond daarvan kan jy weer in sy heerlikheid deel. Wanneer jy ontdek wat God se opinie oor jou lewe is, herstel dit jou posisie van heerskappy.


Dit posisioneer jou om nou akkuraat te lewe en om jou lewe in ooreenstemming met God se wil te bring.
Wat is sonde? Sonde is nie net ’n aktiwiteit nie, sonde is ’n posisionering – dit beteken dat jy jou skeppingsdoel mis. Deur verlossing bring God herstel sodat jy kan ontdek hoe om sy wil, sy plan, sy gedagte vir jou lewe uit te leef.
Wanneer enigiets buite sy skeppingsdoel aangewend word, is die resultaat altyd skade. Daarom wil God jou kom bevry – sodat jy vry van skade kan leef en sodoende ’n vervulde lewe van oorvloed sal lei. Jesus was die heiligste mens wat ooit geleef het en sy lewe het goddelose mense gefassineer – hulle was aangetrokke tot sy aantreklike lewe.
Waarom? Want hulle het iets eg in sy lewe gesien, nie ’n godsdienstige vermakerigheid nie, maar gesag. Hy het geleef vanuit die opinie van God – vanuit God se uitspraak oor sy lewe.
Jesus is nie net ’n voorbeeld vir jou nie, Hy is ’n voorbeeld van jou. Hy is die Eersgeborene… Die woord eersgeborene in Grieks is die woord proto. Proto beteken nie net numeries eerste nie, dit beteken ook eerste in spesifikasie. Die proto gee definisie aan hoe die res moet lyk.
Die Skrif daag ons uit:
Moenie gelykvormig word aan die wêreld nie – tot die definisie wat Adam gegee het nie, maar word gelykvormig aan Christus (Sien Romeine 12:2).
Die uitdaging vir jou is om Christus te “sien”, sodat jy kan ontdek wie jy is – dat jy in Christus is. Hy definieer wie jy is – Hy is die bloudruk van jou ontwerp.


