Tietel 6

Die Ou Testament is ’n heenwysing na die Nuwe Testament – die Ou Testament kan slegs vanuit die openbaringsinsig van die Nuwe Testament verstaan word.

MENG JY NOG DIE OU VERBOND EN DIE NUWE TESTAMENT?

Die Bybel bestaan uit twee dele, die Ou en Nuwe Testament.

Wanneer die Bybel gelees word, behoort dit in die lig van verlossing in Christus geïnterpreteer te word. Die Ou Testament kan slegs volkome verstaan word as dit vanuit die openbaringsinsig van die Nuwe Testament gelees word.

Dit is uiters gevaarlik en misleidend om die Ou Testament op jou lewe van toepassing te maak wanneer jy dit nie vanuit die perspektief van jou posisie in Christus verstaan nie.

Die Ou Testament was ’n skaduwee wat na die Nuwe Testament heengewys het. Onder die Ou Testament moes die mens hard werk om God se aandag en aanvaarding te kry en te behou en dit is juis waarvan God die mens in Christus kom bevry het.

As die Ou Testament en die Nuwe Testament vermeng word, is die uiteinde totale verwarring, want jy is ’n erfgenaam van die Nuwe Testament wat jou kom bevry het van eie poging. Die Nuwe Testament is gegrond op beter beloftes waarvan Christus die waarborg is. Die Nuwe het die Oue kom vervang en dit mag nooit vermeng word nie.

’n Verhaal in die Ou Testament wat hierdie beginsel uitlig, is die verhaal van Jakob, Lea en Ragel. Die Ou Testamentiese ideaal was dat ’n vrou vir haar man drie seuns sou gee. Wanneer Lea se derde seun gebore word, glo sy dat sy uiteindelik die guns van Jakob sou verkry. En wanneer sy die kind ’n naam gee, spreek dit van eie poging: ek het dit reggekry, ek het gekwalifiseer; daarom noem sy hom: Levi.

Sy raak vir ’n vierde keer swanger en toe nog ’n seun gebore word, besef sy dat sy inderdaad die geseënde is en sy sê: “Dié keer sal ek die Here loof!” en sy het hom Juda genoem. Juda beteken lof.

In die betekenis van die twee name, Levi en Juda, is die kern van beide die Ou en die Nuwe testament vasgelê. Toe die ou verbond ingestel is, het God ’n priesterskap aangewys wat moes toesien dat die wet, wat die basis van die Ou Testament was, deur die volk onderhou word.

 

Wanneer God opdrag gee dat die priesters uit die stam van Levi aangewys sou word, verteenwoordig dit dus prestasie. Die eerste hoë-priester uit die stam van Levi was Aäron en binne die orde van Aäron is die Leviete as priesters aangewys.

 

Dan breek daar ’n nuwe bedeling aan – die bedeling van die Nuwe Testament waarin Jesus Christus as die hoëpriester uit die stam van Juda gebore word. Levi verteenwoordig poging: ek het my kant gebring en nou kwalifiseer ek. Juda daarenteen verteenwoordig onverdiende genade: lof aan God!

Jesus is die hoë-priester, nie volgens die orde van Aäron nie, maar volgens die orde van Melgisédek. Met die verandering van priesterskap was daar ook noodwendig die verandering van wet.

Waar Levi simbool was van eie poging, is Juda simbool van onverdiende guns en genade. Daarom mag en kan hierdie twee verbonde nooit vermeng word nie.

Paulus gebruik sterk taal wanneer hy aan die Galasiërs skryf wat die twee verbonde op ’n dwase wyse vermeng het en die Evangelie sodoende kragteloos gemaak het. Hulle wou in eie krag klaarmaak wat in die Gees (deur genade) begin is.

 

Paulus neem die Galasiërs terug na die verhaal van Sara, Hagar en hulle seuns. Die seun gebore uit die slavin was gebore uit die vlees, uit menslike poging. Die ander seun was gebore uit die vrye, uit die belofte.

Hy wat na die vlees gebore was, het hom wat na die Gees gebore was, vervolg. Die oomblik wanneer jy die ontdekking maak dat jy nie meer hoef te werk of te presteer om die guns van God te verdien nie, gaan die kinders van die “vlees”, wat met pogings en prestasie die wet wil onderhou, jou teëstaan.

 

Paulus se antwoord hierop is eenvoudig: “Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erf nie” (Sien Galasiërs 4:30).

 

Waak teen mense wat druk op jou wil plaas om deur prestasie God se guns te soek. Jy is nie meer ’n kind van die slavin nie, maar ’n kind van die vrye!

Lesson Content
0% Complete 0/2 Steps