

’n Sleutel het die potensiaal om nuwe, onontdekte ruimtes oop te sluit. Dit is presies dieselfde ten opsigte van die Evangelie. Die sleutel wat jou toegang gee tot dié verborgenheid, tot dié geheimenis, is Jesus Christus.
Jesus is nie net nog ’n opsie op die godsdiensmark nie. Jesus Christus is dié weg, dié waarheid en dié lewe. Hy is die sleutel tot die oorvloedslewe wat jy slegs deur Hom kan betree.
In Kolossense 2:6-10 waarsku Paulus die gemeente teen mense en leerstellings wat verwarring bring deur allerhande alternatiewe opsies voor te stel waardeur die volheid van die verlossing in Jesus verkry kan word – hetsy die wysbegeerte, die wet of tradisies van mense.
Die mens staan aan die ontvangkant van die volheid wat Jesus se afgehandelde werk daargestel het. Die mens is volmaak verklaar in Christus en dit is in die openbaring daarvan dat die mens word wat hy reeds is!
Heiligmaking is nie iets wat jy nou probeer doen sodat jy ’n beter mens kan word nie – dit is ’n natuurlike uitvloeisel van ’n innerlike ontdekking van wie jy waarlik is en wat nou motiveer hoe jy leef.


Jesus is die sleutel tot die ewige lewe. Die ewige lewe verwys nie (net) na ’n tydperk van lewe in die hiernamaals nie, maar na ’n kwaliteit van lewe. Die ewige lewe is die goddelike lewe, (“the God-kind of life”), waarvan ons nou reeds in Christus deelgenote geword het. Dit is dus nie iets wat ons eers eendag verwag nie.
Jesus is ook die sleutel tot al God se beloftes. Elke belofte wat God ooit gemaak het, het kom kulmineer in die oomblik toe Jesus gesê het: “Dit is volbring!”.
Elke belofte van God wat daar ook mag wees, is in Jesus “ja!”, en jy spreek die amen (wat beteken: so sal dit wees) tot heerlikheid van God.
As jy ontdek dat jy in Christus is, sal dit jou tot ’n goddelike lewe herposisioneer waarin jy erfgenaam van die nuwe testament is. Elke belofte wat God ooit oor jou kom spreek het is ’n realiteit.
“Die regverdige sal uit die geloof lewe” (sien Galasiërs 3:11b).
Wanneer jy met geloof lewe, begin jy met ’n verwagting leef.
Verwagting bring ’n oortuiging dat jy nie binne die konteks van die sintuiglike vasgevang is nie; jy is nie ’n slaaf van omstandighede nie.
Jy begin nou op ’n baie natuurlike wyse ’n bonatuurlike lewe leef omdat jy met verwagting leef.


Regdeur die Skrif is daar ’n beginsel dat God die mens op die vlak van sy verwagting ontmoet – dit word ook in Jesus se bediening gesien.
Die beginsel van verwagting word nie net individueel beleef nie, maar ook korporatief.
Die gebeure in Nasaret waar Jesus as gevolg van die ongeloof (geen verwagting) van die mense geen wonderwerke kon doen nie, is bewys daarvan.
Verwagting is nie op jou natuurlike omstandighede gebaseer nie, maar op dit wat God reeds deur sy Seun gesê het. Deur sy Seun het God ’n gesprek met die mens aangeknoop en dít bring ’n verruiming in die mens se hart. Hierdie verruiming noop hom om verby dit wat die natuurlike vir hom wil sê te kyk, en ’n verwagting te begin koester oor wat Hy kán doen.
As jy oor die toekoms dink, dink jy in prentjies. As jy die verkeerde bron van inligting het, gaan jy die verkeerde prentjies in jou gedagtes hê, en as jy in die verkeerde prentjies dink, gaan jy die verkeerde verwagting van die toekoms hê.
Daarom is dit so noodsaaklik om te hoor wat God sê en om die inspraak van die Woord in jou lewe toe te laat. Christus moet deur die Woord geopenbaar word sodat daar geen verwarring sal wees oor wat jy vir die toekoms en oor omstandighede moet verwag nie.
