
Die wet van Moses, waar die mens deeglik van sy eie poging bewus was, moes nou plek maak vir genade, die bedeling waar God se guns onverdiend op die mens gerus het. Die geregtigheid wat Christus vir ons bewerkstellig het, is moontlik gemaak deur die krag van sy onvernietigbare lewe en nie omdat Hy uit die regte stam gebore was, soos wat die wet van Moses vereis het nie.
Want die Een van Wie ons praat, behoort tot ’n ander stam, ’n stam waarvan niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie. Ons weet tog almal dat ons Here uit die stam van Juda afkomstig was en dat Moses nooit enigiets gerep het oor die priesters uit daardie stam nie. Dit alles maak dit des te meer duidelik dat as daar ’n ander priester sou kom wat met Melgisedek ooreenstemming vertoon, Hy nie sou verskyn volgens die ou vereiste van fisiese afkoms nie, maar in die krag van onvernietigbare lewe.
Hebreërs 7:13-16, NLV
As ons Hoëpriester het Jesus die volgende uitgeroep net voordat Hy sy asem uitgeblaas het: “Dit is volbring!” Sy opdrag om die mens te verlos, is afgehandel en voltooi. Die ooreenkoms of verbond wat God met ons gehad het om die wet te onderhou, was nou tot niet verklaar in ’n nuwe verwysing – een waar seën gewaarborg is deur die afgehandelde werk van sy Seun.
Die oomblik toe Jesus sterf, is sy testament geldig verklaar en ons is die wettige erfgename van alles wat Hy daarin vir ons nagelaat het. Dit is belangrik om te verstaan dat dit die geheim was wat al die eeue in God se hart opgesluit was!
Deur vir ons aan die kruis te sterf, het Jesus elke vloek gedra wat oor ons gekom het omdat ons nie die wet nagekom het nie, en is elke seën wat aan Abraham belowe is, nou deel van ons erfenis:
Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word – want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang – sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang. Galasiërs 3:13-14
Al hierdie seëninge is nou deel van die seën en erfenis wat ons in Christus ontvang het. Die ou verbond se beginsels geld nie meer nie; jy is nou nie meer net geseënd as jy sekere dinge doen nie, jy is geseënd omdat jy in Christus is!
Die Evangelie wat baie mense verkondig, is nog steeds geskoei op Deuteronomium 28 wat sê dat as jy dít, dan sal God dát. Maar daar is nou glad nie meer ’n ooreenkoms tussen jou en God wat stipuleer wat jy moet doen nie – jy is nou deel van sy genadeverbond. Jy hoef ook nie langer die vloeke in Deuteronomium 28 met vrees te beloer nie. Christus het die vloek geword sodat jy ’n geseënde kan word. Al die seëninge wat in Deuteronomium 28 genoem word, het jy nou geërf sonder dat jy iets hoef te doen om dit te verkry.
Ja, geseënd sal jy wees in die stad; geseënd sal jy wees in die veld; geseënd is die werk van jou hande, jou eiendom en al jou geld.
