Wat verwag jy om aan die bome te vind wanneer jy tydens oestyd deur ’n lemoenboord stap? Die vars geur van sitrus, natuurlik.

Wat verwag jy om te vind by mense wat weergebore is en ’n nuwe identiteit in Christus ontvang het? ’n Mens verwag Goddelike vrug – vrug wat deur Christus binne-in my natuurlik en spontaan geproduseer word.

 

Om vrug te dra, is anders as om werke te doen in reaksie op ’n eksterne wet. Vrug word spontaan en natuurlik geproduseer. Werke word ekstern afgedwing. Om goeie werke te doen, moet jy wekkers stel om dit te onthou en strawwe uitdink as jy nagelaat het om dit te doen. Die vrug van die Gees – liefde, blydskap, vrede, geduld, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing – word natuurlik en spontaan van binne geproduseer.

 

Ons dra nou vrug wat by ons bekering pas. Die Griekse woord vir bekering is metanoia, wat beteken om anders te dink. Die Vulgaat is die Latynse vertaling van die Bybel. Die spesifieke vertaling het die woord bekering as boetedoening vertaal. Eeue lank was mense onder die indruk dat bekering beteken om jou sondes te bely en daarvan afstand te doen. Maar metanoia beteken die radikale verandering van denke. Metanoia is eintlik ’n saamgestelde woord wat bestaan uit die woorde saam en dink. Dit beteken dus om saam met God te dink. Dit is die oproep van die Evangelie – om totaal anders te dink oor onsself, oor ons omstandighede en oor hoe ons leef.

 

Baie kerke het boetedoening of sondebelydenis die grondslag van hul geloof gemaak, wat die mens weer aan skuldgevoel en veroordeling vasgemaak het. Die verlossingsboodskap roep ons om saam met God te dink en te leef met die verwagting dat ons spontaan sal vrug dra omdat sy gedagtes ons gedagtes is. Jy is nou bestem om vrug te dra wat pas by iemand wat anders oor homself dink. Iemand wat dink hy is ’n sondaar, dink anders as iemand wat dink dat hy die geregtigheid van God is. Sien jouself soos God jou sien. Paulus verwys hierna in Romeine:

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Romeine 12:2, 1983-Vertaling

 

Dit is baie belangrik dat ons gedagtes gedurig vernuwe word, anders kan ons weer maklik in die proses van veroordeling verstrengel raak. Ongelukkig het die manier waarop ons praat en hoe ons dink, soms nog die skynsel van hoe ons onsself gesien het voordat ons in Christus was. So ’n ingesteldheid sal ons ou denkpatrone aanmoedig in plaas daarvan dat ons fokus op die oorwinning wat ons in Christus behaal het.