Tietel 5

Die Bybel is ’n storie van erfenis en jy is ’n erfgenaam omdat jy ín Christus is en Hy die prys namens jou betaal het.

Die woord “verbond” kan aan die hand van twee woorde verklaar word wat onderskeidelik in die Ou en Nuwe Testament gebruik word.

 

In die Ou Testament is die Hebreeuse woord vir verbond, die woord berith wat dui op ’n ooreenkoms. In die Ou Testament het God ’n verbond met die mens gesluit wat ’n wedersydse verwagting gegrond was. Hierdie wedersydse verwagting word duidelik gesien in Deuteronomium 28 – as jy doen wat van jou verwag word, sal God (die ander party) positief reageer. As jy egter nie jou deel van die ooreenkoms nakom nie, sal jy die nagevolge moet dra.

 

Die ou verbond het nie daarin geslaag om die kwaliteit lewe wat God vir sy kinders begeer het, te laat realiseer nie. Dit was net eenvoudig onmoontlik vir die mens om die voorskrifte na te kom. God inisieer dan die nuwe verbond (die Griekse woord: diatheke wat testament beteken) deurdat Hy ’n verbond met sy Seun sluit.

 

Jesus word die middelaar – Hy sterf aan die kruis namens die mens en Sy sterwe wettig die testament. Sy woorde: “Dit is volbring!”, ontsluit die mens se wettige aanspraak as erfgenaam van die volle erfenis. Jy is nou die geseënde van God – nie omdat jy poog om Hom gelukkig te maak nie, maar omdat jy ín Christus is.

Die mens is dus wettiglik erfgenaam van die nuwe testament – tog neem so min mense dit werklik in besit!

 

Paulus hanteer dit in die boek aan die Galasiërs wanneer hy skryf oor die praktyk van aanneming. God het sy Seun gestuur sodat die mens die aanneming van seunskap kan beleef wat hom in staat sal stel om die volle implikasie van die nuwe testament sy eie te maak.

 

Hierdie aanneming verwys na ’n Joodse tradisie waarin ’n pa sy eie biologiese seun as sy wettige erfgenaam erken. Wanneer die seun die ouderdom van volwassenheid bereik het, sou die pa tydens ’n spesiale seremonie sy hand op die jong man se kop sit en openlik dié verklaring maak: “Dit is my geliefde seun op wie ek baie trots is. Ek bemaak al my rykdom aan hom sodat hy in al my sake namens my kan optree”.

 

Twee handelinge vind tydens die seremonie plaas: eerstens hang die vader ’n kleed om sy seun– die erfgenaamskleed wat sy nuwe identiteit versinnebeeld.

Tweedens maak hy dan die uitspraak oor sy seun dat hy sy wettige erfgenaam is.

Albei hierdie handelinge was aanwesig toe Jesus gedoop is. Die hemele het oopgegaan en Jesus is beklee met die Heilige Gees in die vorm van ’n duif; en die Vader maak die uitspraak: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (sien Matteus 3:17).

Almal wat die doop bygewoon het, het dadelik geweet dat dit ’n aannemingseremonie is. Jesus se doop lei Sy bediening in.

 

In Lukas 15 word die gelykenis vertel van die pa en sy twee seuns. Die gedeelte bevat drie redes waarom die mens nie die volle erfenis in besit neem nie:

  1. ONKUNDE: Die jongste seun het presies geweet wat wettiglik syne was, maar die ouboet was totaal onbewus van wat aan hom behoort het.
  1. SKULD EN VEROORDELING:

    “Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie, maak my soos een van u diensknegte.” Hy was verleë en was gestroop van sy gesag.

  2. GODSDIENSTIGHEID EN EIE POGING:

     “Ek dien u al soveel jare en nog nooit het ek u gebod oortree nie.” Ek het my kant gebring – ek verdien dit dus.

Die pa antwoord die oudste seun en sê: “Kind… (sien Lukas 15:3)”. Die woord “kind” hier is die Griekse woord teknon wat letterlik “klein kindjie” beteken – dit is asof die pa wil sê: jy is my seun, maar jy gedra jou soos ’n klein kindjie… alles wat ek het, ís reeds joune!

Hierdie tragedie speel so dikwels af: seuns wat soos klein kindertjies optree en die geleentheid verbeur om hul volle, wettige erfenis in besit te neem.

Lesson Content
0% Complete 0/2 Steps