God het gekies om in sy Seun ’n nuwe uitspraak oor die mens te maak. Dit is ’n nuwe tydperk en God het iets nuuts vir ons kom sê. Dit is die genade- dispensasie waar ons uit sy volheid hierdie genade op genade ontvang.

Die genade van God is vir alle mense beskikbaar. Ons as Christene het egter die vermoë om hierdie genade beter te hoor en te verstaan as die nie-Christen wat nie daarop ingestel is nie. As Christene moet ons versigtig wees om nie godsdienstig na hierdie nuwe gesprek te luister nie. Soos die verlore seun se ouer broer, kan ons dit baie maklik mis omdat ons dit nie verstaan nie.

Hierdie boodskap van genade is opgesluit in die nuwe gesprek wat God deur sy Seun begin het. Hierdie uitspraak wat God oor ons gemaak het, het die vermoë om ons lewens radikaal te verander.

 

God se Woord het skeppende krag in ons lewens. Woorde is gees-voertuie – dit beskik oor enorme kreatiewe energie. Ons woorde is soos saad wat ons saai met ’n inherente genetiese kode. Wanneer hierdie saad op vrugbare grond val, het dit die potensiaal om te ontkiem, wortel te skiet en vrug te dra. Ons woorde bring lewe of dood voort.

 

Vandag is die luggolwe gevul met inligting in volkleur en klank. Dit bly egter onsigbaar en onhoorbaar totdat ons ’n ontvanger ingestel het om dit deur middel van ’n spesifieke frekwensie op te vang.

 

Dieselfde met die Woord van God. Ons moet ons harte instel om hierdie uitspraak “op te vang” wat God oor ons lewe gemaak het. Jesus het dikwels vir die mense gesê: “As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor!” (Markus 7:16). Almal het natuurlik ore gehad, maar min het hulle ore “ingestel” om die ware boodskap te hoor.

 

Dit is ons keuse of die woorde wat God spreek gaan wegbons, deflekteer en of dit gaan ingang in ons harte gaan vind.

Wanneer ons die Bybel lees in die lig van wat God oor verlossing sê, word die Bybel ’n nuwe boek. Jesus sê dat sy Woord gees en lewe is.

 

Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en lewe. Johannes 6:63

 

God het nog altyd met die mens gepraat. Al sy woorde, drome en begeertes vir die mens het versamel en opgehoop en God het sy hart in Christus kom uitpraat. God het ’n finale uitspraak gemaak om deur alle mense gehoor te word. God kon nie méér duidelik met die mensdom gepraat het as wat Hy het toe Hy Christus gestuur het om sy hart aan ons te openbaar nie.

 

Wanneer ons dus wil hoor wat God sê, moet ons luister na wat sy Seun vir ons sê.