

Jy betree die rus, of beloofde land, wanneer jy in geloof die woord, die uitspraak, van God oor jou lewe aanvaar. Dit is die woord wat God vir die mens kom sê het in sy Seun, Jesus Christus. Dit is in Christus dat ons die volle erfenis ontdek – Hy is die oorsprong van alle realiteit.
Die Evangelie is ’n spieël waarin jy kyk en ontdek dat Jesus se werk reeds ’n realiteit is. Dit is God se volkome uitspraak oor jou lewe in sy Seun Jesus Christus.
Alles in Christus waarvoor ons waardering het, het Hy in die mens kom reproduseer. Jy is nou die verteenwoordiger van die Christus- lewe hier op aarde want jy het ’n nuwe identiteit in Christus.
Dit is vanuit hierdie verwysing dat God die mens in ’n dimensie van lewe innooi wat HY sy rus noem. Jy kan die rus van God betree.
In Hebreërs word die Ou Testamentiese storie aangehaal oor God wat sy mense ’n beloofde land gegee het:
God het begeer dat sy mense met groot vrymoedigheid in daardie beloofde land sou ingaan. Op pad na die beloofde land word hulle egter deur sogenaamde realiteite geïntimideer en het dit só ’n effek op hulle dat hulle nie in die beloofde land kon ingaan nie.
Tien van die twaalf verspieders wat Moses uitgestuur het om die land te gaan verken, het gesê: “Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë” (sien Numeri 13:33b). Die Israeliete het na hulle geluister en kon weens hulle ongeloof nie in die land ingaan nie.


Baie keer ontvang jy ’n uitspraak van God oor jou lewe, maar dan stap jy bloot daarvan weg en doen soos Jakobus skryf: Jy vergeet hoe jy lyk (sien Jakobus 1:24). Die uitdaging is om ’n diep insig te verkry in die volmaakte wet van die vryheid waartoe jy geroep is.
Wanneer jy diep insien verander dit hoe jy dink oor jou lewe, oor wie jy is, oor hoe God oor jou dink en hoe jy die beloofde land, die rus van God, in besit kan neem.
Hoe jy na jouself kyk, bepaal wat jy verwag. Dit is krities dat jy anders sal begin dink.
Geloof definieer jou bestaan en dit bepaal dat jy nou nie volgens die sintuiglike of sigbare realiteite wandel nie, maar wel volgens die uitspraak van God. Kaleb en Joshua het ’n ander ingesteldheid gehad, en God het hulle daarvoor geëer.
Die Hebreërskrywer maak hierdie verwysing van toepassing op die Nuwe Testamentiese erfenis, op die volheidslewe in Christus. Hy noem dit die sabbatsrus vir die volk van God.
Jy rus nou van jou werke soos God van syne rus. God het nie na die ses skeppingsdae gerus omdat Hy moeg was nie – dit is onmoontlik vir God om enigsins uitgeput en moeg te wees.
Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? Ewige God is die
Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie…
Jesaja 40:28
Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.
Psalm 121:4
As die Bybel sê dat God gerus het, verwys dit na totaal iets anders en Hebreërs verskaf die sleutel: die mens kan nou in die rus ingaan soos wat God van sy werke rus, want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard.
Hoe het God gerus? Toe Hy geskep het, het Hy met sy Woord geskep. Hy het sy woord gestuur en toe sy rus ingegaan omdat Hy volle vertroue gehad het dat sy woord dit sal doen waartoe Hy dit gestuur het.


Hoe gaan die mens dan die rus van God in? Deurdat hy glo dat dit wat God oor sy lewe gespreek het, deur sy woord sal realiseer. Jesus is die Woord van God wat vlees geword het en Hy het die verwysing van die mens se lewe geword. God het deur sy Seun met die mens kom praat.
God nooi die mens om in sy rus in te gaan. Dit is die sabbatsrus wat vir God se mense bestem is en dit word betree deur sy uitspraak oor jou lewe te vertrou.
Wanneer ek die “in Christus” lewe my eie maak en dit ’n realiteit in my lewe word, begin ek vanuit die rus van God lewe.
Die Woord van God is lewend en kragtig en skerper as ’n tweesnydende swaard wat skeiding bring tussen siel en gees. Dit openbaar wanneer jy in die sielsdimensie funksioneer, vasgevang binne die konteks van jou sogenaamde realiteit, en ook wanneer jy vanuit die openbaring van jou lewe in Christus leef.
Jy is geroep om te kan RUS soos wat Hy rus. Vertrou volkome in Jesus wat gesê het: “Dit is volbring!”. Dit is ’n afgehandelde realiteit. Jesus is die waarborg van hierdie verwysing.
