
Die woord van God is lewend en kragtig, dit bring skeiding tussen siel en gees en dit beoordeel die hart. Wanneer ons waarlik die implikasies daarvan verstaan dat ons ingesluit is in sy erfenis, vind daar ’n skeiding plaas tussen die beperkte siels-insig en die onbeperkte geesdimensie van waaruit ons nou kan leef. Ek word dus in staat gestel om te onderskei tussen sielsgebaseerde verwysings en geestelike realiteit.
Ek word bekragtig om weg te staan van die beperkte ryk van die siel en in te stap in die onbeperkte geestesryk. Ek word uitgeskiet uit die beperkte verwysing van die siel se eise – die gedagtes en die bedoelings van die hart – in die ongebonde omgewing van die lewe in Christus, net soos God dit bedoel het. Ons betree God se rus deurdat ons die afgehandelde realiteit van die Woord (Christus) ontdek en glo. In Hom leef ons, beweeg ons en is ons nou. Die Israeliete kon nie hierdie rus ingaan nie, want hulle het nie geglo nie. Ek betree egter hierdie erfenis deur geloof in die afgehandelde werk van Christus.
Toe Jesus in die woestyn versoek is, het Hy die versoeking teëgestaan deur te sê: “Daar is geskrywe…” (sien Lukas 4:4,8,10). Die boek Lukas gebruik hier die Griekse woord logos. Maar die vierde keer word Jesus se verweer vertaal as: “Daar is gesê…” (Lukas 4:12). Hier is die Griekse woord rhema gebruik. Logos dui meer op die algemene, geskrewe woord van God en rhema dui op die openbaringswoord – wanneer die woord vir ons “lewend” word. Dit wil voorkom asof Jesus Hom met die oorspronklike uitspraak van God bly identifiseer het tot dit ’n vastrapplek in sy gees gekry het en Hy ’n rhema (openbaringswoord) kon spreek. Die Bybel sê dat die vyand Hom toe verlaat het.
Ons plaas ons vertroue in Christus en ons spreek met vrymoedigheid sy Woord oor ons omstandighede uit. Ons is nie meer geïntimideer deur wat ons sintuie sê nie, want ons het beleef dat die Woord skeiding en onderskeiding in ons lewens bring omdat ons nou deur die Gees lewe.
Christus het namens ons alles gedoen sodat ons ’n oorwinningslewe kan leef. Hy het dit bedoel toe Hy uitgeroep het: “Dit is volbring!”
Ons was van alle ewigheid af bestem om in hierdie “volbring”-verwysing te leef en ons gun elke mens om hierdie ontdekking te maak! Hierdie ís die Goeie Nuus-boodskap vir elke mens op die planeet.
VOLBRING – Dít is waar ons begin!
