


Staan sterk, want jy is vry van skuld en skaamte! Die Evangelie is nie daarop gerig om die skade van sonde deur middel van toegewyde pogings te probeer herstel nie; herstel vind plaas wanneer die mens ontdek dat Christus dit reeds in sy verlossingswerk aan die kruis gedoen het.
Romeine 3:23-24
…want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat daar in Christus Jesus is.
Hebreërs 10:14
Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.
Romeine 5:17
… veel meer sal hulle wat die oorvloed van genade en die gawe van geregtigheid ontvang, in die lewe heers.
Daar is drie komponente wat ’n houvas op die mens gekry het met die val van Adam: skuld, skaamte en seer. Skuld is die gevoel wat jy beleef wanneer jy iets verkeerd gedoen het. Skuld het ’n geweldige negatiewe effek op die mens se gewete. Skaamte, daarenteen, is ’n gevoel van verkeerd-wees. Jy voel jy is nie goed genoeg nie en jy sien jouself as minderwaardig. Dit is ’n identiteits-probleem.
Voortgedryf deur hierdie die twee primêre kragte, lei die mens ’n lewe wat pyn veroorsaak en word die wêreld ’n omgewing van gebrokenheid.
Geen mens kan homself daarvan bevry nie. Daarvoor is ’n redder nodig. Dit is slegs die bloed van die Lam van God wat skuld en skaamte kan wegneem.
Die inhoud van die mens se verlossing bestaan volgens Romeine 5:17 uit drie aspekte wat Christus vir ons bewerkstellig het: ’n oorvloed van genade, die gawe van geregtigheid en die gesag om in die lewe te heers. Met hierdie drie aspekte
- genade, geregtigheid en gesag – het Christus direk met die drie primêre komponente van Adam se val – naamlik skuld, skaamte en seer – kom afreken.
In Adam was die mens skuldbelaai, en daarvoor stuur God sygenade. Genade het ten diepste met jou skuld afgereken. Jy is nie meer skuldig nie – jy is nou onskuldig verklaar in Christus.
Skaamte is ’n identiteitsverwysing wat met ’n gevoel van inherente verkeerd- wees gepaard gaan. Geregtigheid is ’n uitvloeisel van die nuwe identiteit wat God vir die mens bewerk het. Jy staan voor God sonder enige bewussyn van minderwaardigheid want jy weet nou wie jy is – jy is in Christus en ’n nuwe skepping!
Met die openbaring van genade en geregtigheid kan jy nou met gesag in die lewe heers. Jy leef nou met die gesag om dit wat in jou wêreld gebroke is, te herstel. Jy word nou ’n instrument van God se genade.
Geregtigheid reken af met ’n slegte gewete. In ’n Goddelike ruiltransaksie het Jesus sonde geword sodat jy die geregtigheid van God in Christus kon word.
