Ek is daarvan oortuig dat duisende Christene deur die lewe gaan sonder om te besef wat hierdie heerlikheid is wat God vir ons bestem het. Baie is steeds waar Paulus was voordat hy op die pad na Damaskus ontmoeting met Jesus gehad het – hulle plaas steeds die volle verantwoordelikheid vir hulle persoonlike redding op hulself.

 

Hulle probeer as’t ware steeds die wet te onderhou deur goeie werke te doen met die hoop om God se guns te wen.

 

Hierdie openbaring moet posvat dat God ál die verantwoordelikheid van ons verlossing op Homself geneem het. Daar is niks meer wat jy moet of kan doen om jou saligheid te verdien nie. Jesus Christus het die mensdom eens en vir altyd volkome vrygemaak van enige skuld en ons almal kom kwalifiseer vir ’n lewe van oorwinning en oorvloed. God het hierdie verlossing van ewigheid af fyn beplan.

 

In sy grenslose guns teenoor ons ontdek ons dat die verlossing van die mens nie toevallig was nie; God het in sy wysheid als fyn beplan en so uitgedink. Hy het ons gewens. Sy begeerte is nie meer ’n geheim nie; dit wat Hy van altyd af in Homself onderneem en gekoester het, is nou aan ons bekend.

Efesiërs 1:8-9, The Mirror (vry vertaal)

 

Ek wil dit vergelyk met ’n geskenk wat pragtig in helderkleurige papier toegedraai is en waarop jou naam neergeskryf is. Iemand het hierdie geskenk vir jou uitgekies omdat dit iets is wat jy nog altyd wou hê. Al wat jy moet doen, is om dit oop te maak en dit te geniet. Jy hoef niks te doen om dit te verdien nie.

 

Jy moet net bereid wees om dit in dankbaarheid oop te maak, te benut en die vreugde te ervaar van die positiewe verandering wat dit in jou lewe teweeg bring. Die vreugde op jou gesig is genoeg om die persoon wat dit vir jou gegee het, gelukkig te maak.

 

Net so is dit met die Evangelie. Dit is ’n geskenk wat ons uit die hart van God ontvang en wat ons lewens radikaal verander. Terselfdertyd bring dit Hom vreugde omdat die ontdek daarvan vreugde en blydskap in ons lewens wakker maak. Trouens, soveel so dat die openbaring van die Evangelie ons lewens verander – soveel so dat ons nou die bewys, die trofee van sy oorwinning word.