Tietel 4

Die Here wil nie net sekere komponente van jou lewe kom verander nie – Hy wil jou hele lewe kom transformeer. Hy herposisioneer jou lewe want jy het gesterf vir jou ou lewe en opgestaan in ’n nuwe manier van lewe. Dit is die essensie van die verlossingsboodskap.

Jy is ’n bevoorregte mens want jy staan aan die ontvangkant van genade. Jy het ’n nuwe identiteit ontvang wat jou posisioneer vir ware intimiteit met God.

 

Intimiteit lei na integriteit. Jou lewe verander wanneer jy jou ware identiteit ontdek en jy begin in ooreenstemming met God se plan en wil vir jou lewe leef. Wanneer jy ontdek wie jy in Christus is, ontdek jy genade en geregtigheid en dit lei jou na ’n lewe van gesag, van outoriteit en van oorwinning.

 

Jou eie poging dra geensins by tot ’n lewe van oorwinning nie – geen aanpassings wat jou beter laat voel, kan dit bewerkstellig nie. God kom in Christus om jou hele lewe te verander. Hy herposisioneer jou lewe, want jy sterf vir jou ou manier van lewe en jy staan op in ’n lewe van oorwinning. Dit is die essensie van die verlossingsboodskap.

 

Jy moet ontdek dat Christus die prys namens jou betaal het – dat jou verlossing ’n afgehandelde werk is en dat jy ingesluit is in die werk aan die kruis. Hy het deur sy genade met jou sonde afgereken.

 

Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Romeine 6:1

 

Paulus waarsku dat hierdie benadering tot genade vir sommige mense bloot beteken dat hulle sonde uit genade vergewe is. Genade is egter soveel meer as net die vergifnis van jou sonde –dit het jou kom bekragtig om oor die sonde te heers.

Genade leer jou en is ’n beter leermeester as die wet. Genade leer jou om goddeloosheid en die wêreld se begeerlikhede te verloën (sien Titus 2:12). Paulus maak dit duidelik dat jy iets moet weet ten einde genade te kan verstaan.

…aangesien ons dit weet dat ons ou mens saam gekruisig is, sodat ons liggaam van die

sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Romeine 6:6 

Die feit dat jy nog van tyd tot tyd foute maak, definieer nie jou identiteit nie. Jy is nie ’n sondaar omdat jy foute maak nie, net so min as wat jy regverdig is omdat jy goeie dade doen. Jy moet jouself nie laat vasval in ’n siklus van veroordeling nie, want jy is vrygespreek deur die werk van Jesus Christus aan die kruis.

 

God het jou kom bemagtig sodat jy nie telkens wanneer jy gekonfronteer word met sonde, daarvoor hoef te swig nie. Jy kan jou tot jou nuwe identiteit wend – jy is regverdig verklaar. In Romeine 6 bevestig Paulus hierdie verwysing deur die gebruik van drie terme: weet, reken en stel.

So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, ons Here. Romeine 6:11

Die woord reken is die Griekse woord logitsomai, waarvan die woord logika afgelei is. Paulus sê die enigste logiese afleiding wat jy kan maak, is: Jy het gesterf – en jy lewe nou saam met Christus. As jy dit verstaan, sê hy:

En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God… en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Romeine 6:13

 

In Romeine 7 verduidelik Paulus hoe dit onder die wet was en hy herinner jou dat jy niks in jou eie krag gaan regkry nie. Die Ou Testament, die verwysing na die wet, was gegrond op ’n verbond. ’n Verbond is die hoogste vlak van ooreenkoms. In die Ou Testament sluit God ’n ooreenkoms met die mens en die voorwaardes van hierdie ooreenkoms word vervat in die wet. As jy die wet onderhou, sal jy geseënd wees.

Dwarsdeur die Ou Testament probeer die mens om volgens die wet te lewe sodat hy die seën van die Here kan verdien. Maar dit was onmoontlik en dit het die behoefte aan die Nuwe Testament benadruk. Die Nuwe Testament verskil van die Oue aangesien dit ’n erfenis en nie ’n verbond is nie ’n Erfenis impliseer dat jy geen aandeel het nie – dat jy reeds ingesluit is. Aangesien jy ingesluit is, kan jy al die voordele geniet omdat dit ’n afgehandelde realiteit is.

Lesson Content
0% Complete 0/2 Steps