Tietel 11

Jesus het God se opinie oor jou lewe kom bevestig. Hy het gekom om die afstand tussen God en die mens vir ewig te kanselleer.

Johannes 14:2,6

In die huis van my Vader is daar baie wonings… Ek gaan om vir julle plek te berei. Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Johannes 14:23

…As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.

 

Dít is die wonder van die Evangelie: God het die inisiatief geneem en die mens by die verlossingsverhaal kom betrek. God neem die inisiatief terwyl:

  • ons swak was en dit nie self kon doen nie; (Romeine 5:6)
  • ons nog sondaars was wat ons doel gemis het en buite God se orde geleef het; (Romeine 5:8)
  • ons vyande van God (Romeine 5:10)

God kom versoen die mens met Homself.

 

Hierdie “versoen” spreek van intimiteit, van ’n restourasie wat plaasgevind het sodat die mens weer in verhouding met God kon leef.

 

Daar is twee dimensies wat alle godsdienste met mekaar gemeen het: God is ver en die beloning is eendag. Jy moet sekere goed doen om te kwalifiseer sodat jy op die uiteinde beloon kan word.

Christenskap is in wese die teenoorgestelde. Christenskap sê: God het die inisiatief geneem, God het vir die mens kom doen wat hy nie vir homself kon doen nie.

 

Nou leef ek vanuit ’n verwysing waar ek niks hoef te doen om te kwalifiseer nie, ek ontdek dat ek reeds gekwalifiseer het omdat Hy dit namens my gedoen het.

 

Ek leef vanuit die voorreg van verhouding met God wat my aanvaarding bewerkstellig het.

 

Jesus sê in werklikheid vir jou: Alles wat jy in My sien en beleef, is omdat Ek met die bewussyn leef dat God die Vader naby My is. Ek het gekom om dit in jou te reproduseer –die afstand tussen God en die mens is vir ewig uit die weg geruim. Die beloning is dus nie meer eendag nie, jy kan nou reeds intimiteit met God beleef.

 

“…Ek gaan om vir julle plek te berei… Ek is die weg…” (sien Johannes 14:2,6). Jesus gee ’n verklaring van die plek en van die weg. Die plek is die hart van die Vader en die weg is Jesus Christus.

 

Die oomblik wanneer jy bewus word van God in jou, verander alles in jou lewe. God begeer om in jou woning te maak, en as dit ’n realiteit word, verander dit hoe jy oor die lewe dink.