


Ons is sy liefdesgedig! God het ons in Christus tot goeie werke kom herskep.
Hebreërs 2:11
…om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle sy broeders te noem nie.
Efesiërs 2:10
Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
Johannes 17:15-18
Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van hierdie wêreld nie, net soos Ek nie van hierdie wêreld is nie. Heilig hulle in u waarheid; U woord is die waarheid. Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.
Dit is krities dat elke gelowige sal weet: “Ek is ’n gunsgenoot van God en ek behoort aan Hom”. Christus skaam Hom nie vir jou nie al beleef jy bygeleentheid gebrokenheid, verwarring en verleentheid. In sy oë is jy volmaak omdat jy in Christus is.
Jy kwalifiseer vir sy aanvaarding en guns omdat jy ’n nuwe identiteit het en dit herposisioneer jou vir die goeie werke waarvoor God jou voorberei het.
Dit beteken dat jy jou lewe volgens sy wil sal rig sodat jy waardig in jou roeping sal wandel. Waardig beteken “in ooreenstemming met”. Jou lewe word nou ’n spieëlbeeld van die ontdekking van die nuwe lewe in Christus.
Jou aktiwiteite bepaal nie jou identiteit nie. Jou aktiwiteite vloei nou vanuit jou verstaan van jou ware identiteit.
Daar is drie belangrike handelinge in die boek Efesiërs: sit, loop (wandel) en staan. Jy is geroep om saam met Jesus in hemelse plekke te sit. As jy goed sit, menende dat jy weet wat die verlossing en afgehandelde werk van Christus inhou, verander dit die manier waarop jy loop. En wanneer jy loop, moet jy weet dat die vyand jou gaan kom aanval en daarom moet jy vas staan.
Hierdie wandel sluit aan by jou roeping – by die feit dat God nie net ín jou nie, maar ook déúr jou wil werk. God wil jou as sy ambassadeur binne die konteks van ’n gebroke, stukkende wêreld posisioneer.
God stuur sy kerk na onrein omgewings waarheen ons sy heerlikheid kan uitdra. Christene mag nie terugdeins en die besigheidswêreld, die kunste, die media, die opvoedkunde of die regering vermy nie. Ons word geroep om God se genade binne daardie omgewings te gaan bekendmaak. Jy moet ontdek wat God deur jou wil doen om hierdie wêreld ten goede te beïnvloed.
Jy verteenwoordig die lig en liefde van God. Moenie versigtig wees vir die “ander kant” nie, want dit is alles sý kant. Word bewus van jou Goddelike roeping!
