Soveel mense het nog nooit die geleentheid gekry om hierdie metamorfose te ondergaan om van sondaar na regverdige getransformeer te word nie.

Hulle tree dus nog op soos sondaars, want inherent is hulle nog sondaars. Dit maak nie saak hoe hard hulle probeer om nie te sondig nie, ’n wurm kan immers op sy heel beste nie ’n skoenlapper wees nie…

Die ander kant van die saak is nog ’n groter hartseer. Daar is mense wat wel hierdie metamorfose ondergaan het, maar hulle het nog nooit die realiteit en uitwerking daarvan besef nie. Hulle het vlerke, maar hulle kruip nog op die grond rond – hulle is geregverdig, maar hulle beskou hulself nog as sondaars. Mense dink dit is vroom om te sê: “Ek is maar net ’n sondaar…”, en dan ewe vroom by te voeg: “…uit genade gered.”

Omdat hulle die genade van God onderskat en verkeerd verstaan, hou hulle aan om na hulself as sondaars te verwys. As God jou van sonde gered, verlos en bevry het, hoe kan jy nog steeds ’n sondaar wees? Solank jy nog aan jou identiteit as sondaar vasklou, het die leuen nog ’n houvas op jou. Solank jy gaan glo dat jy ’n sondaar is, gaan jy soos een optree.

 

Sulke mense sien hulself as ’n wurm wat elke dag moet probeer om ’n beter wurm te wees sodat hulle dalk eendag ’n skoenlapper kan word. Die waarheid is dat jy in Christus

die identiteit van ’n skoenlapper ontvang het en dus nie langer op die grond hoef te lewe nie. Jy hoef maar net jou vlerke oop te sprei en te vlieg. ’n Skoenlapper bly ’n skoenlapper, al word hy soms nat, vuil of honger. As wedergebore kind van God is jy nie meer ’n sondaar wat moet probeer om nie meer te ondig nie, jy is nou ’n geregverdigde.

Kan jy sien hoe dit ’n heel ander benadering is? Jy het ’n splinternuwe identiteit ontvang – jy is nie meer ’n sondaar nie!