INLEIDING
Ek is daarvan oortuig dat hierdie kursus die potensiaal het om jou lewe te verander. Kom ek motiveer my stelling: in hierdie kursus gaan jy ontdek:
- dat die Evangelie wáárlik goeie nuus is – goeie nuus wat jóú insluit;
- dat Christus aan die kruis die prys namens jou betaal het – dat Hy kom doen het wat jy nooit self kon doen nie;
- dat jy nie meer ’n sondaar is nie, omdat jy nou ’n nuwe identiteit IN Christus ontvang het;
- dat die afstand tussen jou en God vir ewig gekanselleer is – want God het naby gekom;
- dat jy nie meer hoef te presteer om God se aandag te kry en te probeer behou nie, want in Christus is jy meer as aanvaarbaar vir Hom;
- dat jy nie meer ’n slaaf van skuld en skaamte hoef te wees nie, want Hy het jou finaal kom verlos;
- dat jy bekwaam gemaak is om in dié lewe te heers;
- dat jy aan die ontvangkant staan van sy genade;
- dat jy in ’n intieme, persoonlike verhouding met God kan leef – sonder enige vrees of veroordeling;
- dat jy ’n erfgenaam van die Nuwe Testament is – elke belofte in die Skrif is ’n realiteit hier en nou;
- dat jy met oorgawe in die rus van God kan ingaan met die oortuiging dat sy Woord die vermoë het om dít te doen wat Hy beloof.
Ek nooi jou om saam met my op hierdie reis te gaan, na die grootste ontdekking wat die mens ooit kan maak – dat dit waarlik volbring is!
Alan