Christenskap gaan nie daaroor om geestelike slangetjies-en-leertjies te speel in die hoop dat jy dit tot bo by die boonste blokkie (die Finish) sal maak nie. Die realiteit wat jy moet ontdek, is dat die vertrekpunt van ons verhouding met Jesus eintlik die Finish– blokkie is – dit is nie ons einddoel nie, want ons begin by Finish!

 

DIE VERTREKPUNT IS: ‘DIT IS VOLBRING!’

 

Christus het namens jou die bopunt van hierdie metaforiese slangetjies-en-leertjies-speletjie bereik. Ons geestelike lewe begin by VOLBRING. Ons begin heel bo by die volmaaktheid wat Christus reeds bereik het!

Hierdie is die kern van die Evangelie, anders gaan jou Christelike lewe een groot frustrasie wees. Dit is vanuit hierdie vertrekpunt dat God sy ewige, onvoorwaardelike liefde aan ons wil bekend maak.

In Christus leef ons klaar heel bo in die Finish-blokkie en geen slang hoef ons ooit weer onkant te vang nie. Toe Jesus uitgeroep het: “Dit is volbring!”, is ons ingesluit in ’n geleentheid wat ons hele bestaan verander het. Ons geestelike reis behels die ontdekking van ons ware identiteit in Christus. Die speletjie is verby – ons het gewen!